
Norme vir Afrikaans - Moderne Standaardafrikaans 6/u
Norme vir Afrikaans (nou reeds in ’n sesde uitgawe) het sedert 1989 bewys gelewer dat dit ’n besonder effektiewe bron is vir gebruik in taalkundeklaskamers van tersiêre instellings en selfs in skole. Die boek is aan die een kant ’n praktiese naslaanbron wat as basis vir eie taalontwikkeling kan dien. Aan ander kant word in die aanpak prober om taalteorie en taalpraktyk te versoen. Dat die outeur hierin geslaag het, is bewys deur die gereelde bywerk van die boek en die wye gebruik daarvan.
In die besonder fokus die boek op die verskeidenheid “norme” wat ’n mens in gedagte moet hou by die praktiese gebruik van Afrikaans, onder meer die beginsels onderliggend aan hierdie norme, en dan ook die identifisering van belangrike en nuttige bronne van taaladvies oor problematiese taalsake. Die doel van die boek is nie om streng “normatief” te probeer voorskryf nie, maar eerder om leiding te gee in die hantering van praktiese taalkwessies met as vertrekpunt gefundeerde taalteoretiese kennis oor die Afrikaanse taalkunde. Die boek is nou al deeglik gevestig as ’n omvattende en uiters bruikbare hulpmiddel vir sowel student as dosent en is die vrug van die outeur se jarelange ondervinding as taaldosent en navorser. Daar word ook rekening gehou met die geleidelike herstandaardisering van Afrikaans, vandaar die nuwe subtitel “Moderne Standaardafrikaans”, wat ’n aanduiding is dat Afrikaans in die proses is om te moderniseer vir ’n nuwe geslag gebruikers.
Die riglyne van die elfde uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) (2017) is volledig in hierdie uitgawe verreken
Prof. W.A.M. Carstens was tot einde 2017 dosent in die Afrikaanse taalkunde in die Skool vir Tale aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus). Sedert 2018 is hy buitengewone professor in Afrikaanse taalkunde in die navorsingseenheid Tale en literatuur in die SA konteks aan die NWU. Hy is ook die outeur van ’n omvattende publikasie oor die tekslinguistiek, Afrikaanse tekslinguistiek – ’n inleiding (1997), en as oud-Taalkommissielid was hy mede-outeur van die negende uitgawe van die AWS. Hy is mede-outeur van ’n publikasie oor Teksredaksie (2010, 2012), waarvan verwerkings reeds in Engels (2012) en Sesotho (2016) verskyn het.
Weergawes in isiXhosa en isiZulu word in die afsienbare toekoms gepubliseer. Prof. Carstens is verder mederedakteur van Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (2014, 2017), mederedakteur van Ons kom van vêr (2016) asook medeouteur (saam met prof. Edith Raidt) van ’n omvattende tweedelige boekreeks getitel Die storie van Afrikaans (2017, 2018), waarin die inklusiewe geskiedenis van Afrikaans verwoord word.