"Agter hom sluit die hyserdeur met 'n sagte suisgeluid. Die grys rook omvou hom soos 'n kombers. Hy is op die oppervlak. Vir die eerste keer in sy lewe is hy nie intra terram nie, maar staan sy voete waar aarde en atmosfeer ontmoet."
Wotan SQ7 is sestien jaar intra terram en ontvang sy oppervlakkrediet waarmee hy 'n kort besoek kan bring aan die oppervlak van die aarde - 'n oppervlak wat gedurende die Groot Oorlog verwoes is deur die kernmissiele wat van vasteland tot vasteland aanhou vuur het lank nadat alle tekens van lewe uitgewis is.
Wotan het nog altyd 'n vermoede gehad dat daar meer aan die lewe moet wees as wat die siellose, gereglementeerde tonnelbestaan twee kilometer onder die aarde kan bied. Sy onbedwingbare vryheidsdrang en sy weetgierigheid maak dat hy na sy eerste besoek aan die oppervlak nie langer die debiete van Sentrabeheer en Moeder, die ontsaglike sentrale rekenaar, klakkeloos kan aanvaar nie.
Wotan SQ7 is meer as net 'n futuristiese avontuurverhaal - dit is ook die verhaal van hoe die mens se vrye gees triomfeer ten spyte van beperkinge wat daarop geplaas word.